DIEN

Ons streef daarna om ‘n geloofsfamilie te wees wat Jesus dien met ons hele lewe en in die manier waarop ons met mense om ons omgaan en uitbeweeg in die gemeenskap en die wêreld in. Hieronder is geleenthede om dit te doen.

Diep & Vêr – Voedselverspreidingsprojek

Toringkerk vat hande met “Network For Christ” – ‘n plaaslike organisasie wat huishoudings bemagtig en bedien in uitdagende omstandighede. Network for Christ stap ‘n volhoubare pad met gesinne. Verskeie ondersteuningssisteme soos familie begleiding, vaderskap kursusse, mentorskap programme en kospakkies word gebied.

Tans is ons bevoorreg om reeds sedert Mei 2020 op ‘n maandelikse basis hierdie gesinne wat inskakel by Network for Christ te ondersteun met kospakkies. Ons kan slegs voorsiening maak van hierdie kospakkies met die hulp van die gemeente en breër Paarl gemeenskap se finansiële bydraes.

Hoe kan jy betrokke raak?

  • Borg ‘n kospakkie ter waarde van R250. Elektroniese skenkings kan inbetaal word by die kerk met die verwysing “Diep en Vêr”.
  • Word deel van die Diep en Vêr pak-span. Hierdie span kom een keer per maand bymekaar om die kospakkies vir hierdie gesinne te pak in die kerksaal.
  • Bid vir die gesinne wat tans onder moeilike omstandighede leef, asook vir die personeel van die organisasie Network for Christ.

Ons wil ‘n plaaslike gemeente wees, wat ‘n impak het op ons plaaslike gemeenskap. Wees deel hiervan!

Indien jy verder betrokke wil word, kontak gerus vir [email protected].

HUIS ANDREW MURRAY

Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum, ‘n program van BADISA Wes-Kaap, Wellington, is ‘n geregistreerde NPO-kinder- en jeugsorgsentrum (kinderhuis) wat huislike versorging bied aan 150 kinders (tussen 1 en 18 jaar) buite die kinders se gesinsomgewing in ooreenstemming met ‘n huishoudelike sorgprogram wat geskik is vir die sentrum.

Toringkerk het een van die dogtershuise by Huis Andrew Murray aangeneem. Huis Aristea is ‘n huis op die perseel waar daar ‘n totaal van dertien dogters woon van verskillende ouderdomme. Die rede hiervoor is sodat die dogters en die oppasser van die huis soos ‘n huishouding kan funksioneer.

Dit is vir ons as Toringkerk ‘n groot voorreg om deel te kan wees van Huis Aristea se versorging en ontwikkeling. Verhoudings is vir ons baie belangrik, dus is dit ook belangrik dat ons deur die jaar gereelde kontak met hierdie dogters behou.

Skoendoosprojek (Junie/Desember)
Tydens die Junie en Desember vakansies loods Huis Andrew Murray ‘n skoendoosprojek, waar die gemeentelede van Toringkerk ‘n skoendoos van die spesifieke kinders van Huis Aristea se benodighede bymekaarmaak wat dien as ‘n geskenk vir die dogters.

Opknapping van Huis Aristea
Soos enige huishouding, is daar altyd ‘n opknappingswerkie wat gedoen moet word of wat benodig word. Hou ons afkondigings dop vir meer inligting hieroor.

Verjaarsdae
Ons vier graag die dogters en die oppasser van Huis Aristea se verjaarsdae met ‘n partytjie. Dit is vir ons altyd lekker om moeite te doen, rakende hierdie spesiale geleenthede.

Ander
Daar is ook ander geleenthede gedurende die jaar waar ons vir Huis Aristea gaan kuier en hulle vir ons.

Indien jy verder betrokke wil word, kontak gerus vir [email protected].

ACVV

ACVV is die oudste nie-winsgewende maatskaplike organisasie in Suid-Afrika. Ons is bevoorreg om ‘n klipgooi weg te wees van die ACVV Noorder-Paarl kantoor, wat maatskaplike dienste lewer aan kinders en gesinne in ons area in die Paarl.

Ons is dankbaar vir die dienste wat die maatskaplike werkers moet lewer onder moeilike omstandighede. Ons ondersteun die dienste wat hierdie kantoor lewer en is dankbaar vir die samewerking en goeie verhoudinge wat ons kan handhaaf tussen Toringkerk en ACVV.

Indien jy verder betrokke wil word, kontak gerus vir [email protected].

ALLIMENTASIE

Een van ons gemeente se waardes is om te deel wat ons het. Ons weet dat ons almal deel vorm van die liggaam van Christus en wanneer een lid ly, ly elkeen. Ons maak dus voorsiening vir ons lede wat ‘n behoefte het aan ‘n spesifieke wyse van hulpverlening.

Ons gesels kraag in konfidentialiteit, rakende jou behoeftes en help waar ons kan. Ons nooi jou uit om in gesprek te tree met ons maatskaplike werker, indien jy so voel.

Indien jy verder betrokke wil word, kontak gerus vir [email protected].

MSINGA

Die Msinga uitreik vind jaarliks gedurende die Junie/Julie skoolvakansie plaas. Toringkerk asook ander Paarl gemeentes en Struisbaai reik uit om verskeie bedieninge te ondersteun. Keate’s Drift is een van bedieninge wat fokus op jeugwerk en om kwessies soos armoede, bewusmaking van siektes en ondersteuning te bied. Die dinamiese bediening is ‘n heerlike avontuur wat jou nader aan God en Sy mense vat.

Indien jy verder betrokke wil word, kontak gerus vir [email protected].

WILLEM VAN DER COLFF

Willem van der Colff en sy gesin is aktiewe en passievolle volgelinge van Jesus wat werk in Ukraine. Willem is aktief betrokke met kampe en bedieninge aan vlugtelinge. Hierdie gesin glo dat hul opdrag baie duidelik aan hulle gegee is en leef hul dus hul roeping prakties uit.

“Ons Christenskap vloei uit ons persoonlike verhouding met die Drie-enige God, wat ons sy Groot Opdrag gegee het.

“Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

(Evangelie van Matteus 28:18-20)

Juis deur gehoorsaamheid aan hierdie opdrag, bevestig ons dat ons Hom liefhet en dat Hy daadwerklik saam met ons is.”

Hul hoofbedieningsprojekte behels drie fokuspunte, naamlik evangelisasie, dissipelskap en sending.

Die Van der Collf’s wil jou uitnooi om saam met hulle in diens (bediening) van die Here betrokke te raak. Moontlik kan jy dit saam met hulle doen. Hier is ‘n paar opsies:

Bid gereeld – as jy nog nie ons nuusbrief ontvang nie, kan hul webtuiste besoek vir verdere inligting.
Finansiële bydrae – as die Here dit op jou hart lê, kan jy hul bediening ondersteun deur ‘n finansiële bydrae te maak.
Besoek gerus hul webtuiste vir verdere inligting oor hierdie bediening: https://ua4u.weebly.com/

Indien jy verder betrokke wil word, kontak gerus vir [email protected]

RUSOORD

Rusoord is ‘n Tehuis in die Paarl wat aan 176 inwoners huisvesting bied. Toringkerk is bevoorreg om betrokke te wees by hierdie tehuis op verskeie maniere.

Op Sondae lei ons leraars ‘n erediens in Rusoord se kapel. Op Woensdae oggende om 10h30, lei Jana ook ‘n Bybelstudiegroep, waar die groep ook ondersteuning vir mekaar kan bied.

Indien jy graag wil inskakel by hierdie erediens of Bybelstudiegroep op Woensdae, kontak gerus vir [email protected].