DOOP & NAGMAAL

Ons nooi alle mense wat nog nie gedoop is nie om gedoop te word as simbool waar Jesus uitreik in liefde na jou. Hierdie woorde beteken dat Jesus vir elkeen van ons kies om deel te hê aan Sy verbond.

Kliek op die skakel om meer te lees oor die verbondsdoop in Toringkerk.

Die doopvorm kan hier afgelaai word.

Die twee sakramente, die nagmaal en die doop is vir ons belangrik en heilig. Ons wil in elke erediens bewus wees van die Here se kruisdood en die impak wat dit op die sakramente het. Die woord “sacrifice” beteken om heilige (sacri) te maak (-fice). Heiligheid is ‘n verhoudingsterm: om heilig te wees beteken nie om verwyderd en alleen te staan nie, maar eerder om in ‘n goeie verhouding te staan. Mense wat skoon en rein is, mag en kan in verhouding met God staan. Wanneer jy heel was, mag jy in die tyd van Jesus deel gevorm het van die aanbidding en van die gemeenskap. Wanneer jy siek was, melaats was, heidens was, is jy uitgesluit, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het en dit durf waag het om aan ‘n rein Jesus te raak.

Jesus herstel haar, nie net in haar liggaam nie, maar ook in haar sosiale lewe. Jesus maak haar skoon sodat sy weer in verhouding met haar dorp, haar mense en met God kan staan. Om iets van vuil na skoon te kry, vra ‘n offer, “sacrifice”, heiligmaking. Al agtergekom hoeveel keer in ons lewe ons iets moes opoffer sodat lewe kan gebeur, vir onsself op ‘n ander, beter manier, of vir iemand anders? Ouers ken van opoffer, van heiligmaking, om jou lewe te gee vir jou kind sodat hulle kan gaan van vuil na skoon, van onrein na rein, van buitestanders na ingelsuit.

Dit is Jesus wat die offerlam is wat die sonde van die wêreld kom weggeneem het. Dit is Jesus se bloed wat die krake in die heelal toemaak en regmaak. Jesus het die gebrokenheid, die seer, die sonde, die kwaad, die haat van die stukkende skepping op Hom geneem, sy Gees oorgegee, sy bloed uitgegiet. In ons plek. ‘n Ruimte waar ons heel is en waarvan ons deel is. Kom tuis.

(Uit die boek: Pierre Du Plessis – Jesus ruik na mirre en stof)