GROEI SAAM

Ons neem mede-verantwoordelikheid vir ons elkeen se geestelike groei en verdieping, sodat ons ook die vrugte van die gees in ons daaglikse lewe kan uitleef.

BYBELSKOOL

Ons is opgewonde om hierdie jaar vir Prof. Marius Nel by Toringkerk te verwelkom, waar hy op ‘n maandelikse basis Bybelskool sal aanbied. Prof. Nel is tans ‘n dosent by Stellenbosch Universiteit en spesialiseer hy in die vakgebied van Ou Testament en Nuwe Testament.

Vir ons om die Bybel op ‘n verantwoordelike wyse te lees is dit noodsaaklik dat ons doelbewus moeite doen om die konteks van die Bybel te verstaan. Prof. Nel gaan ons hiermee help om sodoende ook die boodskap wat die Bybel vir ons bring met meer diepte te kan verstaan en sodoende ook te kan integreer in ons alledaagse lewens.

Bybelskool sal die tweede Woensdag van elke maand plaasvind.

Indien jy belangstel om in te skakel by die Bybelskool, kontak gerus vir [email protected]

STILWORDGELEENTHEDE

In ‘n lewe van vroeg opstaan, besige kalenders, skool, werk, huiswerk en oortyd werk, vind ons dat die verlange na stilword nie net ‘n dringende behoefte is nie, maar ook ‘n noodsaaklike geloofsgewoonte behoort te wees. Ons stilworddienste duur slegs 30 minute, waar hierdie kort geleentheid ‘n kontemplatiewe styl aanneem.

Ons wil hiermee rustig word, stil word en kans gee dat ons weer bewus word van die teenwoordigheid van die Here.

Die Stilwordgeleentheid vind die eerste Woensdag van elke maand plaas in die kerk.

Indien jy enige verdere inligting benodig of wil gesels oor geloofsgewoontes, kontak gerus vir [email protected].