|
Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel,
kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het (Matteus 7:24).
Die afgelope week moes deelnemers aan die Britse TV-program “Who wants to be a millionaire?”, bloot om te kan kwalifiseer, die volgende oefening doen. Hulle moes sekere woorde van die Ons Vader-gebed in die volgorde wat hulle voorkom, neerskryf. Die woorde was “hemel”, ”geheilig”, “naam” en “koninkryk”. Toe die uitslag ná enkele sekondes bekend gemaak is, blyk dit net een uit nege deelnemers kon dit regkry. Die res het geen idee gehad nie!
Hierdie oefening bevestig ’n verskynsel wat vandag eie is aan ons sogenaamde moderne, gesekulariseerde samelewing. Baie mense het die tradisionele waarhede van die Christelike geloof óf ontgroei, óf doelbewus verwerp, sodat selfs die mees eenvoudige en voor die handliggende inligting oor die oerbron, die Bybel, hulle ontbreek. Dít terwyl hulle dikwels alles weet van beleggings, rentekoerse, aandelepryse, eiendomme, advertensies, nuwe motors, noem maar op! In kort: dié dinge wat van jou ’n miljoenêr kan maak.
Eintlik is dit ’n ontstellende verskynsel, aangesien ons wêreld vandag ’n groeiende behoefte het aan mense wat meer krities staan teenoor hierdie algemene neiging om ryker en ryker te wil word. Ons soek vandag mense met waardes wat hulle minder materialisties en méér sober, diensbaar en mededeelsaam kan maak.
Hierin kan ’n boek soos die Bybel help. Maar dan moet ons dié boek se wonderlike verhale, briewe, voorskrifte, wysheid en gebede leer ken. Veral die “Ons Vader” is ’n gebed wat, in die woorde van Helmuth Thielicke, die wêreld omspan.
Ons moet hierdie gebed veral leer bid!
Só moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Amen (Matt 6:9-11).
Carel Anthonissen
Sentrum vir Christelike Spiritualiteit: www.christianspirit.co.za of
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
|