Orrel-banier.jpg
WELKOM!   INLIGTING   DIENS   AFLAAIE   LEES   KYK   TROUES   SKAKELS
Home You are here Tuis > Preke > Rom 8:5-14 Nuut gemaak, leef nuut!
 

Pinkster

Teken aan




   Login reminder    Register

Teks van die dag

Om op mense te vertrou, help niks nie.
Maar as die Here ons help, is ons aan die wenkant.
(Ps 108:13-14, Die Boodskap)
 
   
Rom 8:5-14 Nuut gemaak, leef nuut! PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jaco Thom   
Sondag, 19 Februarie 2012 09:30

Vra die kinders om in die vuilgoeddrom te kom kyk.
Wat dink jy daarvan? Wat is jou reaksie as jy die drom oopmaak?

Ja, ’n vuilgoeddrom is ’n aaklige ding. Dis vuil en stink en laat ’n mens gril. My vrou het my glad verbied om met my kaal hande die drom se deksel oop te maak!

Hoekom is dit so stink? Is dit die drom wat die goed stink maak?

Dis omdat ons vrot goed daarin gooi; goed wat ons nie meer wil hê nie. Dis nie die drom se skuld nie, dis die goed wat ons daarin gooi, wat dit so laat word.

Weet julle, die Bybel sê jou kop werk ook so. Kom ek lees dit gou vir ons:
Lees Rom 8:5,6 (NLV):
Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede.

As jy aan goeie goed dink, sal jy gelukkig wees. En as jy aan slegte goed dink, sal jy ’n ongelukkige mens word.

Noem ’n paar goeie dinge waaraan ons kan dink; en ’n paar slegtes.
bv. lelike woorde, dink hoe jy iemand kan terugkry, hoe jy iets verkeerd kan doen

Kinders van die Here – en dis mos ons – dink nie slegte goed nie. Want die Here help ons om goeie goed te dink.

So elke oggend as jy opstaan, moet jy dit vir die Here vra: Help my asseblief vandag om goeie goed te dink, dinge wat die Here bly sal maak.

GELOOFSBELYDENIS
Kom ons sê nou weer vir almal om te hoor, dat ons kinders van die Here is.

Die kinders kan nou uitgaan.

GEBED OM OPENING VAN DIE WOORD: Lied 253

SKRIFLESING: Rom 8:5-14 (NLV)

Die Brief aan die Romeine is die enigste brief wat hy geskryf het aan mense wat hy nog nie ontmoet het nie. In sy ander briewe skryf Paulus aan gemeentes of persone wat hy goed ken, en skryf hy om raad en leiding te gee oor spesifieke vrae of probleme wat hulle gehad het. Maar hy was op die tydstip toe hy hierdie brief geskryf het, nog nooit in Rome nie, so daar is nie spesifieke kwessies in die gemeente wat hy behandel nie. Dis natuurlik ons wins, want nou spel hy sy verstaan van die evangelie van Jesus Christus op ’n sistematiese wyse uit, en help hy ons om ook goed te begryp waaroor die evangelie gaan.

Hy doen dit met 3 groot temas, wat natuurlik nie los van mekaar staan nie. (Hy skryf ook in hoofstukke 9-11 oor die posisie van die volk Israel, wat nie vir ons vandag van soveel belang is nie.)

  • Hy begin deur te sê alle mense is sondaars, en as dit van ons afhang, sal ons nooit aste nimmer by God uitkom nie (1-4).
  • Sy tweede groot tema is: Jesus Christus het gekom en vir ons gesterf om ons van ons sonde te verlos. As jy in Hom glo en sy verlossing aanvaar, word jy gered, en maak God jou ’n nuwe mens. Dis die enigste manier om uit jou sondenood te kom (5-8).
  • Die derde tema is: vir hierdie verlossing kan ’n mens nooit genoeg dankbaar wees nie, en jy sê vir God dankie met jou hele lewe (12-15).


Die gedeelte wat ons gelees het, staan aan die einde van die verlossing-tema, waar hy vertel hoe Christus se offer ons met God versoen, en dat ons dan nuut word, omdat ons nie net dood is vir die sonde nie, maar nuut gemaak word deur die werk van die Gees van God wat in ons woon. Dis nie iets wat jy verdien deur die wet te onderhou nie; jy ontvang dit as ’n geskenk van God. Dis genade.

Die ding wat hy wil hê ons goed moet verstaan, en iets wat ons juis nie altyd so goed verstaan nie, is dat God se vernuwende werk in jou lewe nie iets is wat jy as ’n eenmalige gebeurtenis ontvang, en daarmee is dit afgehandel nie. Of laat ek liewer sê: in Christus word ons nuut, maar dié nuutheid vat ’n leeftyd om in ons lewens te realiseer. Dis ’n lewenslange proses in jou en my, waardeur ons al meer word wat ons klaar is.

Hy gebruik die begrip dat ons een word met Christus, deel word van Hom, sodat wat met Christus gebeur het, eintlik met ons ook gebeur het. Toe Christus vir ons sonde gesterf het, sê hy, het ons ook gesterf; is ons ou, sondige mens dood en begrawe, en toe Christus uit die dood in ’n nuwe lewe opgestaan het, het ons ook nuut geword, met ’n nuwe gerigtheid en nuwe lojaliteite. Nou is ons nie langer slawe van die sonde nie, maar kinders van God.

Om ons te help om hierdie nuwe lewe te leef, het Christus vir ons sy Gees gestuur. Die Gees woon nou in ons en neem beheer oor ons lewe oor, oor ons denke, oor ons gerigtheid.

So, om dit kortliks saam te vat: God het ons nuut gemaak deurdat Jesus vir ons bevry het van die mag van sonde en dood, en die Gees help ons om die nuwe lewe op te neem en Jesus te volg. God het alles klaar vir ons gedoen. Wat ons moet doen, is om met die Gees saam te werk as Hy ons op Jesus wil rig.

Laat ek dit anders stel: God het ons verlos. Nou moet ons as verlostes leef; leef as die nuwe mense wat God ons gemaak het.

En dis net hier waar ons dikwels vassteek. Jy kan nie God se verlossing ontvang en sê jy is gered, maar jy leef soos altyd nie. Jy kan nie verlos wees, maar jy dink nog soos iemand wat nie verlos is nie. Vers 6 sê: “As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood.” En in vers 8 staan dat mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig kan maak nie. Hoor wat staan in vers 12,13: “Daarom dan, my broers en susters, is dit noodsaaklik dat ons die druk van ons sondige natuur sal weerstaan en nie daarvolgens sal lewe nie. Want as die sondige natuur julle lewe beheer, gaan julle die dood tegemoet ...”

As jou binnekant soos hierdie vuilgoeddrom lyk, gaan jy dit nie maak nie.

Die evangelie, die goeie nuus, is dat God ons wil help om nuut te leef. Dis die hele betoog van Romeine 8: Die Heilige Gees is God se geskenk aan ons. Hý help ons om nuut te leef, om te verander sodat ons soos Jesus word, om nuut te dink (5,6).

Augustinus het gebid: Here, gee wat U vra, en vra dan net wat U wil. Ons kan ook sê: Gee ons die nuwe lewe, dan sal ons nuut leef. Wil jy dit ook bid?
Amen.

Bid Gesang 238:1,3:

My God, hoe kragt’loos, hoe ontaard
maak my die mag van sonde.
Hoe is ek nie verblind, verhard,
en in my wil gebonde.
Hoe het my skuld my nie vervreem,
gemeenskap, Heer, met U ontneem,
U beeld in my verduister!

Verbreek in my voordurend, Heer,
die neiging tot die sonde;
maak my in Christus altyd weer
aan U alleen verbonde.
En maak my lewe: kragtig, goed --
dat ek opreg in my gemoed,
godvrugtig voor U lewe.

Laas Opdateer op Sondag, 19 Februarie 2012 11:33
 
Kopiereg © 2012 Toringkerk NG Gemeente. Alle Regte Voorbehou.
Joomla! is Gratis Sagteware en word kragtens die GNU/GPL Lisensie vrygestel.
Top