Is die Here by ons of nie?

Hierdie vraag van die Israeliete is nie ’n vreemde vraag nie, nie waar nie? Op ’n manier het ons almal seker al dié vraag gevra. Jy vra dit natuurlik nie as dit met jou goed gaan nie. Dan is dit maklik om in God se sorg en teenwoordigheid in jou lewe te glo. Maar as die probleme opduik, as daar siekte of hartseer en teleurstelling oor jou pad kom, as jou geldsake beroerd is, as jy in die noute is en jy bid en bid en bid, maar dit lyk nie vir jou of daar uitkoms is nie, dán begin jy hierdie soort vraag vra: Is die Here by ons of nie?

Dís wat die Israeliete in Eksodus 17 wil weet: Waar is God? Ons het Hom nodig. Ons vergaan van die dors, en daar is nie water nie. En, so het hulle geredeneer, dit was nie húlle skuld dat hulle in die woestyn was nie. God en sy handlanger Moses het hulle soontoe gevat. Pleks Hy hulle in Egipte gelos het, want daar het hulle ten minste darem water gehad om te drink.

Ek dink nie ons moet die krisis waarin die Israeliete hulle bevind het, ontken nie. Hulle wás dors, hulle kinders het gekerm omdat hulle nie water gehad het nie, en hulle het gesien hoe hulle diere swaarkry. Die skrywer erken dit self: Daar was geen water vir die volk om te drink nie, sê hy in vers 1. Ons sou wou sê: ’n Mens kan hulle frustrasie en hulle nood verstaan. ’n Mens kan selfs verstaan dat hulle vrae oor God begin vra. As die lewe jou druk en jy roep na Bo en jy kry nie ’n antwoord nie, net ’n dawerende stilte, dan vra jy hierdie vrae. Want dan maak die geloof dat die Here sorg, nie meer lekker sin nie. Want Hy sorg dan nie.

Is die Here by ons of nie?

Daar is verskillende maniere om hierdie vraag te antwoord.
∙    Daar is deesdae al meer mense wat sê ons moet ophou om onsself te bluf. Daar ís nie ’n God nie, God is ’n uitgedinkte en boonop uitgediende konsep. Ons kan dit die ateïstiese standpunt noem.
∙    Daarmee saam is daar die agnostiese standpunt, wat sê: wie gee om? Ek weet nie of daar ’n God is of nie, en ek stel ook nie belang om eers daaroor te dink nie. Ek is gelukkig soos ek is, en moenie met my karring nie.
∙    Dan is daar ander wat sê nee, daar is waarskynlik ’n Hoër Hand wat alles gemaak het, maar jy moet nou regtig nie dink Hy het tyd om Hom in te meng in ons alledaagse probleme en moeilikhede nie. So jy moet verstaan jy is op jou eie. Dit sal nie help om te bid nie. Gebed is eintlik niks anders nie as praat met jouself. God is nie daar om na jou te luister of jou te help nie. Die Bybel is eenvoudig ’n historiese dokument van ’n bepaalde groep mense se nadenke en verstaan van God, maar dit het geen ewigheidswaarde nie. Ons kan dit die deïstiese standpunt noem.
∙    Daar is ook ’n vierde moontlikheid wat sê ja siestog, ek sien jy kry swaar, en ek is jammer vir jou, en ek verstaan jou vertwyfeling. Partykeer wonder ek ook oor dié goed. Miskien moet ons maar weer gaan dink oor die vraag na God, en na Jesus, en of Hy regtig opgestaan het en by ons is soos ons altyd gedink het. Dalk ís ons geloofstandpunte verouderd. Ons kan nie met idees wat ’n honderd jaar gelede vir mense gewerk het, vandag se moderne mense met hulle geloofsvrae help nie. Ons kan dit die pastorale standpunt noem.
∙    Dit is interessant om te kyk na wat Moses se standpunt was. Ons kan dit die profetiese standpunt noem. Onthou, hierdie mense was regtig dors. Hulle het regtig nood gehad. Dit het nie gegaan oor luukshede nie. Dit het gegaan oor oorlewing. Hoor wat sê hy vir hulle in vs 2: “Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”

Op die oog af klink dit na ’n harde woord, ’n onsimpatieke antwoord. Ek bedoel, die mense is sonder water in die woestyn! Dit laat my dink aan die woorde van die Here Jesus toe die dissipels op die stormsee Hom wakker gemaak het en gevra het of Hy dan nie omgee dat hulle vergaan nie. Toe verwyt die Here hulle en vra waar hulle geloof dan is (Mark 4:38).

Daar ís tye dat ons troos nodig het. Maar daar is ook tye wanneer ’n mens eenvoudig die stang moet vasbyt en ophou sê: “Ag, arme ek.” Wanneer jy moet wegkyk van jouself en jou probleme en leer om dieper te kyk, verder te kyk, en God se genadige sorg raak te sien. Sy sorg lyk nie altyd soos dit wat ons wil hê nie. Sy sorg is nie altyd ’n oase in die woestyn nie. Sy sorg loop soms deur ’n droë land, en laat jou smag. Paulus skryf daarvan in 2 Kor 12, waar hy praat van die doring in sy vlees, en hoe hy met God daaroor geworstel het. En God se antwoord (12:9) klink ook nie te simpatiek nie: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

God se genade lê dikwels vir ons en wag midde-in die tye van swaarkry. Dis nie omdat Hy weg is of nie omgee nie, maar omdat Hy met ons op pad is, dat ons paaie soms deur die donker dieptes loop, soos Dawid in Ps 23:4 bely. In Deut 8:2-3 verduidelik Moses dit só: “Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Is die Here by ons of nie? Natuurlik is Hy by ons. Die vraag is: Is jy (nog) by Hom?