Paulus begin hierdie hoofstuk deur te praat van die geheimenisvolle waarheid van God, oftewel God se geheimenis. Dis natuurlik vir baie ’n groot probleem dat die waarheid van God geheimenisvol is. Hulle sal vir jou reguit sê God is in die hemel en ons weet nie eintlik wat Hy maak of waarheen Hy met ons op pad is nie. So jy moet maar net kinderlik glo en hoop vir die beste, maar meer as dit kan ons nie sê nie. Want God se weë is vir ons ’n raaisel.

Is dít hoe jy dalk ook dink? Dat God in die hemel is en ons so min of meer op ons eie is? En dat wat Hy daar doen, ’n raaisel is? ’n Misterie? En dat ons maar moet stil bly oor Hom want ons weet eintlik bitter min?

’n Mens kry natuurlik ook mense wat net mooi andersom oor God dink; wat om die waarheid te sê, presies weet wat en hoe God dink. Dis hulle wat vir jou haarfyn sal verduidelik hoekom jy siek geword het, of hoekom een of ander slegte ding oor jou pad gekom het, want hulle wéét hoe God se dinge werk. Hulle maak aanspraak op openbarings van God. Hulle sal ook presies vir jou kan uitlê hoekom dit so droog is.

Ek wens ék het so presies geweet hoe God dink! Maar helaas, dis nie hoe dit met my gaan nie. Daar is baie oor God wat ek eenvoudig nié weet nie. En daarom móét ons beskeie wees in ons uitsprake en nie voorgee dat ons presies weet nie.

Dit beteken natuurlik nie dat ons geheel niks van God weet nie; dat ons maar hier op aarde voortploeter en hoop vir die beste nie. Nee. Ons weet wél iets van God se geheimenis, want ons ken Jesus. Dis wat Paulus ook vir die Korintiërs skryf. By hulle was daar heelwat mense wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die wysheid van God ken; dat hulle as ’t ware God se spreekbuis op aarde is. En dan sê Paulus hy gaan hom nie op daardie glibberige pad waag en hom probeer slim hou nie. Hy praat net oor Christus, en Hom as gekruisigde. Christus is God se woord aan ons, God se openbaring, sy geheimenis wat Hy met ons deel. As jy na Christus kyk en na Hom luister, weet jy Wie God is en hoe Hy dink: dat Hy ’n God is wat gekies het om ons, mense, deel van sy agenda te maak; dat Hy na ons gekom het om ons skuld op Hom te neem; en dat Hy ons wil saamneem op ’n nuwe pad van oorwinning oor die sonde, van eerbied vir God en liefde vir die naaste.

Waaraan Paulus ons vanoggend herinner, is dat ons kennis van God ten nouste saamhang met wat ons van Jesus weet en glo. En wat die Gees van God kom doen het en steeds doen, óók ten nouste met Jesus saamhang. Die Gees kom nie allerhande fantastiese openbarings vir ons gee waarmee ons te koop kan loop nie. Hy kom om ons aan Jesus te bind, sodat ons Jesus beter kan ken, en sodat ons Jesus kan leef en soos Hy kan dink en word, en soos Hy onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg (Matt 16:24). Daarom noem Paulus die Gees in 1 Kor 2:16 die Gees van Christus.

Dit behoort ons beskeie te maak oor wat ons oor besondere openbarings van die Gees sê. Maar dit behoort ons ook ongerus te maak as ons dink ons weet eintlik niks oor God se geheime plan nie, want in Jesus het ons dit gesien. Die Gees wil ons aan Jesus bind. Soos Jesus rig op die wêreld.

So wat sê die Woord vanoggend vir ons? Watter boodskap kan ons met ons saamvat?
In die eerste plek: as ons oor God praat sonder om oor Jesus te praat, praat ons in die wind. Of in ander woorde: As jy God wil ken, moet jy Jesus ken en leef.
In die tweede plek: as ons deur die Gees aan Jesus gebind word, sal ons soos Jesus gerig wees op die wêreld. Dan kan ons nie tevrede wees om net vir onsself te leef nie. Soos Paulus in 2 Kor 5:14 sê: Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.