Paulus het ’n baie spesiale band met die gemeente in Korinte gehad. Hy was immers die stigter van die gemeente. Hy het daar aangekom en met die Jode in die sinagoge begin praat oor Jesus, en later ook met nie-Jode. Daar was baie seën op sy bediening, en toe hy ’n jaar en ’n half later daar weg is, het hy ’n gesonde en groeiende gemeente agtergelaat.

Nou is dit 3 en ’n half jaar later, en dinge het erg begin skeefloop in die gemeente. Aanvanklik het Apollos sy goeie werk voortgesit, maar later het ander voorgangers opgedaag en Paulus by die gemeente verdag gemaak en die mense verwar. Nie net is Paulus se gesag as apostel bevraagteken nie, maar die gemeente het ook begin uitmekaarval. Daar was faksies en verdeeldheid in die gemeente, onmin en diskriminasie by die Nagmaal, erge onsedelikheid, verwaandheid, selfs hofsake teen medegelowiges ...

Dié goed kom by Paulus uit, en hy is verskriklik ontsteld daaroor, soos julle kan dink. Dit is o.a. ook hoekom hy die brief skryf: om die gemeente aan te praat oor wat verkeerd is, en – dit was nie sommer sulke kleinighede nie!

Maar – en dis wat vir my opval in die gedeelte wat ons gelees het – dít is nie die dinge wat vir Paulus voorop staan as hy sy brief begin nie. Hy dink aan die gemeente as mense wat, soos hyself, deur God geroep en afgesonder is om aan Hom te behoort (2). Sy eerste gedagte is: hulle is die Here s’n. En daarom, as hy oor hulle dink, sien hy dinge wat die Here in hulle lewe doen: die genade wat Hy aan hulle geskenk het (4), die gawes wat hulle ontvang het (5,7), die hoop wat in hulle leef (7), hulle volharding (8).

Daarom is sy openingswoorde aan hierdie gemeente met wie hy nog hard sal moet praat oor wat verkeerd is, nie ’n verwyt of ’n vermaning nie. Sy eerste gedagte is dankbaarheid: “Ek dank my God altyd oor julle ...” (vers 4).

Dit laat my nou dink aan ’n keer in Jesus se bediening. Hy was vir oulaas op pad Jerusalem toe vir die Pasgafees. By Jerigo het daar ’n blinde man langs die pad gesit, en hy hoor dat Jesus in die groep is. Toe begin hy roep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Die ander mense is geïrriteerd met hom. Hulle raas met hom en sê hy moet stilbly. Hulle het nie lus vir hom nie. Maar Jesus gaan staan en roep hom nader (Mark 10:46-52). Die mense kyk na Bartimeus en sien ’n probleem; Jesus kyk na hom en sien iemand wat Hom nodig het. Dís hoe Paulus ook gekyk het: met God se oë. Daarom sien hy mense vir wie Jesus aan die kruis gesterf het, mense in wie se lewens God aan die werk is. Dís sy eerste gedagte as hy na die gemeente kyk.

Ons het verlede jaar besluit dat een van die waardes waarmee ons in Toringkerk wil leef, presies dít is: dat ons mense raak sien. Dat ons met God se oë na mense wil kyk. Dat ons mekaar sal sien, nie as kompetisie of probleme of irritasies nie, maar as familie, mense wat saam met ons geroep is om aan God te behoort, mense wat saam met ons deur God toegerus word met sy gawes.

Dis natuurlik nie iets wat natuurlik kom nie. Dis iets waarin ons ons moet oefen – om só na mense te kyk. Om mense te sien, en nie eerste te dink dis mos die een wat dít of dát gedoen of gesê het waarvan ek niks gehou het nie, maar om mense te sien deur God se oë as mense vir wie Hy só lief het dat Hy vir hulle kom sterf het.

As ons só na mekaar kyk, sal met ons gebeur wat ook met Paulus gebeur het: ons sal opgewonde raak oor God se werk in ons midde. Want Paulus dank nie die Here omdat Korinte sulke spoggerige Christene het nie. Hy dank die Here omdat hy sien hoe God se werk in hulle en in die gemeente sigbaar word. Want uiteindelik is dít waaroor dit gaan: dat God in ons en deur ons persoonlik, en as gemeente, sigbaar sal word in die wêreld. Dat die Here só in ons sal werk dat ons as gemeente ’n venster kan wees vir die wêreld om te sien hoe dit lyk as Jesus Koning is.

En nou gaan ons die Nagmaal vier – die fees van ons deel-wees van Christus, die fees van ons eenwees met Hom, die fees waarop ons toegerus word, versterk word, beGeester word om soos Jesus te wees, sodat ons met sy oë na die mense om ons kan kyk.

Mag die Here ons saamwees aan sy tafel vanoggend seën met sy teenwoordigheid!

Amen.