Die erediens is baie meer as ’n preek met ’n klompie goeters daarrondom om die uur vol te maak. Die erediens is ’n ontmoeting met God, waar Hy die gemeente aanspreek en die gemeente daarop antwoord. Alles in die erediens moet in diens staan van hierdie ontmoeting. Die manier waarop die verskillende dele van die erediens saamgevoeg word, word die liturgie van die erediens genoem.


Elke erediens bestaan uit vier vaste fases, naamlik die aanloop- of toetrede-fase, die Woorddiens-fase, die tafeldiens-fase en die afloop of uitsendings-fase. Dit word vaste fases genoem, want dit staan nie die liturg vry om na willekeur aan dié fases te peuter nie.

Daarbenewens is daar ook verskuifbare komponente. Hieronder tel die lees van die wet, die oproep tot skuldbelydenis, boetedoening en vryspraak, die geloofsbelydenis, en die offergawes. Hoewel hierdie komponente verskuifbaar is, is dit in die tradisionele liturgie nie opsioneel nie. Die liturg kan egter besluit in watter fase van die erediens hy of sy hierdie elemente gaan plaas. Dit hang af van die tema van die betrokke erediens en die verhaal van die erediens.

Eers as ’n mens die doel van die verskillende komponente van die erediens verstaan, maak die liturgie sin en vorm die diens ’n geheel; is dit nie ’n klomp losstaande elemente wat eintlik maar na willekeur ingespan of gelos kan word nie. Op ’n onlangse kursus oor die liturgie wat ek bygewoon het, het prof Cas Wepener gesê ’n predikant se voorbereiding vir die erediens is nog net halfpad as die preek klaar is. Hy het voorgestel dat ’n mens net soveel tyd aan die beplanning van die liturgie bestee as wat jy neem om die preek te maak. Dit laat ’n mens nogal dink hoe belangrik die liturgie is! In my jongdae was dit glad nie so nie, want die enigste liturgiese komponente waaroor jy beheer gehad het, was die loflied aan die begin en die slotlied aan die einde. Die ander handelinge was vasgestel: dieselfde toetredelied (of introïtuslied), dieselfde lied vir skuldbelydenis, dieselfde lied ná die geloofsbelydenis. In menige kerk is hierdie liedere permanent op die liederebord aangebring, want dit het nooit ooit gewissel nie. Dit het natuurlik die predikant se voorbereiding baie vergemaklik, maar op die lange duur is dit nie bevorderlik vir die ontmoeting met God nie, want jy het as ’t ware op “autopilot” gegaan tot voor die kanselgebed en aan die verskillende handelinge deelgeneem sonder om te dink.

Die aanloop of toetrede begin lánk voor die aanbidder kerk toe gaan. Dit begin al vroeg in die week, waar jy bid vir die komende erediens; vir die liturg wat die erediens gaan lei, en vir jouself. Want die “sukses” van die ontmoeting in die erediens hang grootliks af van die voorbereidingswerk deur die Gees. ’n Voormalige kollega van my het in dié verband gesê hy kom agter dat hoe meer hy in die week vir die erediens van Sondag bid, hoe beter preek die dominee. Inderdaad. Die erediens hang nie net af van die predikant wat op die preekstoel staan nie. Dit hang van jou ook af, en hoe ontvanklik jy kerk toe gaan. Hoe het Paulus nou weer geskryf in Efesiërs 6:19? “Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.” Per slot van rekening is dit wat in die erediens gebeur, en dit wat die predikant sê en doen, God se werk. Daarom: bid vir jou predikant!