Vra vir enige gelowige – die hart van die gemeentelike lewe is die erediens op Sondae. Dit is waar ons saamkom om die Here te ontmoet, of beter gestel: waarheen ons gaan omdat God daar vir ons wil ontmoet, wil toerus en wil uitstuur. Dit lê in die kern van die erediens: God ontmoet ons, tree met ons in gesprek, en ons antwoord Hom.


Omdat die erediens in die eerste plek ’n handeling van God is, is dit vanselfsprekend dat hierdie byeenkoms ’n ander karakter het as enige ander byeenkoms. Dit is ’n samekoms in die heilige teenwoordigheid van die lewende God self. Dit vra die regte ingesteldheid van ons as aanbidders, ’n oop gemoed, ’n verwagting dat daar iets met ons sal gebeur. Dit beteken minstens dat ons in ’n gees van biddende afhanklikheid die erediens sal bywoon, sodat God ons kan ontmoet, en ons Hom. Daarom is die eredienste oor eeue heen en in die verskillende kerklike tradisies só ontwerp dat dit ons help om van God se teenwoordigheid bewus te word: die inkleding van die gebou self, die atmosfeer van die samekoms (of dit nou vreugde en lof of hartseer en klag is) en veral ook wat in die erediens gebeur (die liturgie van die erediens). Dit skep ruimte om God te ontmoet, om Hom aan die woord te laat kom.

Die erediens is egter ook ’n handeling van die gemeente as die liggaam van die Here. Dit is nie in die eerste plek ’n indiwiduele of privaat aangeleentheid nie. Dit is ’n geleentheid waar ons saam met ander gelowiges ons verbondenheid aan God vier. Dit beteken dat interaksie met ander aanbidders deel van die ontmoeting moet wees. Ons ontmoet immers nie net vir God nie, maar ook mekaar. Ons groet mekaar as broers en susters van God se groot familie, ons sing saam, bely saam, offer saam, en in die hoor en sien hoe ander dit saam met my doen, word ek self in my geloof versterk. In dié verband bly ’n baie interessante gesprek met ’n (ouer) lidmaat my by. Hy het by my kom kla omdat iemand voor die diens in die kerk met ’n ander man se vrou flankeer. Dit is natuurlik ongehoord, maar hoe hy dit gestel het, het my laat besef hoe maklik ons die heiligheid van die erediens deur ’n oordrewe piëteit kan misverstaan. Die man het gekla: “Dominee, ek gaan kerk toe en gaan sit in my bank, en ek henner niemand nie en niemand henner my nie. En nou vang die man sulke goed aan.” Nee. As jy kerk toe gaan met die verwagting dat daar geen interaksie tussen jou en die ander gelowiges behoort te wees nie, gaan jy baie van die seën van die erediens mis. Geloof is immers nie iets wat jy in privaatheid doen nie. Dit is God se gawe aan sy kerk, aan ons almal saam.

Ek wil in die volgende paar weke na die verskillende elemente van die erediens-liturgie kyk, en hoe dit ons kan help om God te ontmoet.