In ’n vorige blog het ek geskryf oor die huwelik as God se plan vir ons, en onder andere gesê mense skei deesdae te maklik en probeer nie hard genoeg nie, omdat hulle verkeerdelik dink dis makliker om te skei as om weer te probeer. Ek het ook my eie huwelik voorgehou as een wat gelukkig is.

Ek is daaroor so ernstig verkwalik dat ek die blog uitgevee het. Mense meen ek is arrogant oor my eie huwelik asof dit my eie prestasie is, en liefdeloos teenoor mense wat geskei is, want elkeen het ’n eie verhaal, en ek behoort nie van die kant af te praat van goed waarvan ek niks weet nie.

Dalk het jy ook so gedink toe jy my blog gelees het; daarom hierdie opvolg.

Laat ek begin deur te sê ek dank die Here elke dag vir die huwelik wat Hy my gegee het, en die lewensmaat wat ek bevoorreg is om te hê. Dit is genade, en in ’n stukkende wêreld vul dit my met diepe verwondering dat ek só geseënd is. As ek na my eie huwelik verwys, is dit nie om te spog nie, maar om te sê: Dit kán! ’n Gelukkige huwelik is nie een van daardie dinge waaroor almal praat, maar eintlik weet ons almal dat daar nie so iets bestaan nie. Ongelukkig is daar te veel voorbeelde van mense wie se huwelike dit nie gemaak het nie. Ons lees elke dag daarvan in die tydskrifte en sosiale media, en ek wou nie spog deur my verwysing na my eie huwelik nie, maar die wanpersepsie dat ’n huwelik ’n beperkte raklewe het, verkeerd bewys. Soos Paulus gesê het: “Volg my voorbeeld” (1 Kor 11:1, vgl Fil 3:17 en 2 Tim 1:13).

As ek arrogant oor my huwelik geklink het in my vorige blog, vra ek om verskoning.

Ek besef daar is baie ander redes hoekom huwelike in die skeihof eindig waaroor die onskuldige party geen beheer het nie, soos die onwilligheid van die eggenoot om te werk aan die huwelik, of huweliksontrou, of persoonlikheidsversteurings, of seksuele oriëntasie, of middelafhanklikheid, of ... Die lysie is sekerlik nog baie langer. Ons leef in ’n stukkende wêreld waarin dinge nie noodwendig uitwerk soos ons gehoop het nie, en waaroor ons ook dikwels nie beheer het nie.

Tweedens wil ek sê dat ek nooit bedoel of gedink het dat alle huwelike sneuwel omdat mense te maklik tou opgooi nie. Daar ís huwelike wat doodloop ten spyte van daadwerklike pogings van die egpaar. As jy die indruk gekry het dat ek op die kantlyn staan en alle geskeides veroordeel, vra ek ook om verskoning. Dit was nie my bedoeling nie.

Derdens het ek nagelaat om te sê dat die harde werk wat in die huwelik ingesit moet word om dit te laat slaag, natuurlik van twee kante af moet kom. Soos die Engelse spreekwoord sê: “It takes two to tango.” En ongelukkig het ’n mens nie beheer oor wat jou eggenoot wil of nie wil doen of belê in die huwelik nie.

So vir dié wat gelukkig getroud is, wil ek sê: Waardeer jou eggenoot. Hy of sy is ’n gawe van God aan jou. In Prediker 9:9 staan: “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld.” Moenie jou eggenoot of jou huwelik as vanselfsprekend aanvaar nie, en moenie dink julle sal vanself maar net altyd gelukkig wees nie. Werk aan jou huwelik.
Vir dié wat deur ’n moeilike tyd in jou huwelik gaan, wil ek sê: Byt vas! Probeer nóg ’n keer. Moenie moed opgee op jou eggenoot of jouself of jou huwelik nie. Dis die moeite werd, en met God se genade kán dit wat stukkend is, weer heel word.
Vir dié wat geskei is, wil ek sê: Ons lewe in ’n stukkende wêreld waar dinge soms baie anders is as wat ons gedink het. Dalk is jy flenters gebreek en voel jy soos ’n mislukking. Maar God is ’n God van tweede kanse. Daarom kan jy in God se Naam opstaan en nuut begin, al voel jy nie op hierdie stadium so nie. Want ook vir jóú is daar genade. Dit is tog die evangelie.