Iemand het gesê, as jy na die Here toe kom, hoef jy nie eers te verander nie. Hy vat jou nes jy is. Maar jy moet goed weet, as jy na die Here toe gaan, gaan jy nie bly soos jy is nie. Hy gaan jou verander om al meer te word soos Jesus.

Dít, in kort, is die reis na geestelike volwassenheid. ’n Ander woord daarvoor is heiligmaking. Dis ’n proses wat God deur sy Gees in ons doen, en waarmee Hy nie aan hierdie kant van die graf ooit klaar sal wees nie. Dis ’n lewenslange reis en ’n lewenswyse.

Die goeie nuus is dat dit God se werk in ons is. Dis nie ons prestasie nie. Paulus praat só daaroor in 2 Korintiërs 3:18: “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Daarom is die heel eerste reël vir geestelike groei dat ons God moet toelaat om aan ons en in ons te werk. Paulus praat in Romeine 12:2 daarvan waar hy skryf: “... laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” Dis soos ’n drenkeling wat iets moet doen as hy gered wil word: hy moet ophou om te spartel sodat die lewensredder sy werk kan doen.

Dit beteken nou ook weer nie dat ons armpies gevou kan sit en wag dat ons geestelik volwasse sal word nie. Dit is God se werk, maar dit is ook ons werk. Paulus stel dit mooi in Filippense 2:12 en 13 as hy skryf: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” God maak ons gewillig en bekwaam, maar ons moet ons daarop toelê.

Hoe doen ’n mens dit? Wat kan ek doen om geestelik te groei?

Dit is waar geestelike dissiplines inkom. Net soos ’n atleet moet oefen om fiks te word, moet ons deur geestelike dissiplines onsself oefen sodat God ons kan verander en geestelik fiks maak. Dis nie opsioneel nie. In Hebreërs 12:14 staan (OAV): “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie ...” In 1 Timoteus 4:7 (OAV) staan: “... oefen jou in die godsaligheid,” en in Filippense 3:12 skryf Paulus (NLV): “Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het! “

Dus: geestelike dissiplines is nodig. Dit beteken ons moet sekere goed gedissiplineerd aanhou doen totdat deel word van wie ons is en deel uitmaak van ons manier van lewe.

Ons kan geestelike dissiplines in drie groepe indeel:

  • Dissiplines na binne – soos gebed, meditasie, vas en studie;
  • Dissiplines na buite – soos eenvoud, diens, omgee, en
  • Gesamentlike dissiplines, soos kerkgang, aanbidding, musiek en feesvier.


Jy sal sien dat hierdie dissiplines ons hele geestelike lewe omvat. En nie een van hulle is opsioneel nie. As jy geestelik wil groei, moet jy jou in almal oefen. Jy moet bid, stil word en nadink oor God en jou lewe voor Hom, jou afsonder, die Bybel bestudeer; jy moet jou toelê op ’n lewe van eenvoud en diens en omgee; en, les bes, dit is nodig dat jy nie die samekomste van die gemeente verwaarloos nie, soos Hebreërs 10:25 ons waarsku.

Natuurlik is ons nie almal dieselfde nie, en ons het nie almal dieselfde spiritualiteit nie. Daar is mense wat meer klem sal lê op die dissiplines na binne. Ander sal weer hulleself meer tuis vind in die dissiplines na buite, of in gesamentlike dissiplines. En dis reg so. Maar hoewel jy jouself beter met sekere dissiplines kan uitleef, beteken dit nie dat jy dan die ander kan uitlos nie. Iemand wat ’n hand-spiritualiteit het en graag diens lewer, kan nie sê dit is genoeg en daarom is kerkgang nie nodig nie. Net so kan iemand wat ’n hart-spiritualiteit het en graag ander ondersteun, nie sê dis nie nodig om die Bybel te bestudeer nie. En iemand met ’n kop-spiritualiteit kan nie tevrede wees om net heeltyd Bybel te lees asof diens en omgee nie nodig is nie.

Oefen jou daagliks in die godsaligheid. Anders gaan jy ’n geestelike baba bly.