In Lydenstyd gaan my gedagtes onwillekeurig telkens na twee gebeure wat in die laaste week van die Here Jesus se lewe afgespeel het. Die een is waar Hy op ’n donkie die stad inkom met ’n jubelende skare om Hom wat Hom met wuiwende palmtakke toeroep (Markus 11:9): “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” Die ander toneel is ’n week later, waar dieselfde skare met gebalde vuiste skreeu (Markus 15:13-14): “Kruisig hom! Kruisig hom!”

Ek kan my kop nie lekker om dié een kry nie. Wat het dan gebeur dat die skare teen Jesus gedraai het? Wat het Hy ooit aan hulle gedoen behalwe om hulle lief te hê? Om die Skrifte uit te lê sodat hulle verbaas gestaan het oor die varsheid en gesag van sy leer? Was dit dan nie Hy wat hulle siekes genees het, blindes laat sien het, lammes laat loop het, melaatses gereinig het nie? Wat vir hulle kos gegee het toe dit laat geword het? Hoe kon daardie selfde mense dit uiteindelik uitgil: “Kruisig hom!”?

Daar is mense wat dit verklaar as massa-histerie. Mense sit op loop en neem deel aan die opstand sonder dat hulle weet waaroor dit gaan. Dit hoor ons vandag nog by die betogings. Nie almal wat betoog, weet waaroor hulle betoog nie, maar hulle is meegevoer deur die rollende massa-histerie en toi-toi saam, gooi klippe en strooi rommel, steek brand, breek winkelvensters en dra die inhoud weg asof dit hulle reg is.

Massa-histerie is baie soos ’n vete wat oor jare kom. Later weet niemand meer hoekom hulle baklei nie, maar hulle gaan aan, want dit is hoe dit is. Dis ons en hulle, en ons wil niks met hulle te make hê nie. Hulle word karikature van alles wat sleg is, selfs al het nie een van hulle iets aan jou persoonlik gedoen nie. Hulle is boos en moet beveg word. Dis die reëls van die vete. Hoekom dit so is, is nie belangrik nie. Dit is net so.

Massa-histerie maak ’n mens blind en doof, sodat jy later nie meer kán hoor nie, nie meer kán sien nie. Die haat in jou brand te verblindend wit, en jy fokus dit op een waarteen jy aangehits word. In Nazi Duitsland het die Jode dit ontgeld. By ons is dit dikwels die uitlanders, of mense van ’n ander ras, of die boere. “Hulle” word ontmenslik, dinge wat nie jou liefde en jou deernis hoef te ontvang nie. Soos ’n gewese diaken destyds in Bloemfontein vir my gesê het toe hy uit die gemeente weg is om by ’n ander kerk aan te sluit: by die nuwe kerk preek hulle ook oor naasteliefde, maar die swartes, sê hulle, is nie ons naaste nie.

Dalk is dit deel van die ou geneigdheid wat al in die Tuin van Eden kop uitgesteek het: om die skuld op ander te pak. Blaai gerus weer na Genesis 3. Laat die ander die sondebok wees, want dan is ek ontslae van skuld en blaamloos. “Dis die vrou wat U my gegee het,” sê Adam. “Dis die slang,” sê Eva.

“Dis jý,” sê God. Jý. Jý is skuldig.

Dis hoekom Jesus gekom het, God se sondebok, sodat ons ons skuld op Hom kan pak. Dis net, wanneer ’n mens dit doen, voel jy nie beter nie. Dit breek jou. Want as jy in Jesus se oë kyk, bly Hy nie maar net die ander nie. As jy in sy oë kyk, vloei die haat weg. Voor sy oë word jy week, en sien jy dinge soos dit regtig is: dis Hý wat onskuldig is, nie jy nie.

Mag jy in hierdie Lydenstyd lank en diep in Jesus se oë kyk, totdat jou trotse hart en rede breek.