Op 'n wegbreeksessie het die leraars indringend oor Toringkerk en die pad vorentoe gesels.

 

WAARVOOR ROEP GOD ONS

STRANDBERAAD, JONGENSFONTEIN 2007

Ons hoor dat God ons roep om ’n gemeenskap (community/beweging/dissipels/familie) te wees. God plaas ons binne ’n spesifieke gemeenskap (Paarl se middedorp en ’n spesifieke tyd (2008). Hy wil hê dat ons sy teenwoordigheid sibraar sal maak hier waar ons is (om tyd-ruimtelik relevant te wees).

Om erns te maak met God se roeping sal ons die gemeente se prioriteite in terme van ons roeping moet identifiseer. Dan sal ons ons aktiwiteite in terme van ons tyd, energie en bronne so moet aanwend om God se roeping uit te leef.

Ons beskou die eredienste as van die belangrikste byeenkomste van die gemeente elke week (maw een van ons hoofprioriteite).

Eredienste:

Die eredienste is die belangrikste byeenkoms van die gemeente, en dié feit moet duideliker in ons weeklikse beplanning sigbaar word. Ons kan nie van die erediens ’n spesiale byeenkoms maak as ons nie deeglik daarvoor beplan en meer tyd daaraan bestee nie. Dié beplanning behels nie net preekmaak nie, maar die hele inrigting van die erediens, en wat vooraf en na die diens gebeur.

Die eredienste moet só ingerig word dat dit ’n ontmoeting met God aanhelp, en dat dit ’n ruimte skep waarbinne lidmate ook mekaar as die familie van God kan ontmoet.

Ontmoeting met God: Beplan nie om emosie te fasiliteer nie, maar wel ’n ontmoeting met God (hiervoor bestaan daar baie resepte).

Ontmoeting met mekaar: Almal moet gemaklik en tuis in die erediens voel en daarvoor is dit nodig dat almal wat die erediens bywoon van meet af aan baie welkom moet voel. Veral mense wat vir die eerste keer in ons kerkgebou instap moet dadelik voel "hierdie mense gee om, dit is vir hulle goed dat ek vandag hier is".

Hiervoor stel ons die volgende aanpassings voor:

’n Gasvryheidspan (vaste groep mense wat elke Sondag by dieselfde deure diens doen sodat hulle vreemdelinge dadelik kan optel en verwelkom) is nodig naas die mense wat uit die blokke diens doen.

Ons bevraagteken ook die sinvolheid van die byeenkoms in die konsistorie voor die erediens, apart van die res van die gemeente (wat is die funksie van hierdie byeenkoms?). Kerkraadslede wat by die deure is of in die kerk beweeg en belangstel in lidmate, vir wie hulle ken of navraag doen oor omstandighede waarvan hulle bewus is, help om atmosfeer (gemeenskap) te skep reeds voor die erediens begin.

Termineer die konsistorie-byeenkoms soos wat dit tans is en skep ’n geleentheid vir dié wat wil bid. Die res van die kerkraad sirkuleer in en buite die kerk en word so deel van die gasvryheidspan wat mense laat welkom en tuis voel. Die erediens is immers nie net bedoel om ’n ontmoeting met God te wees nie, maar ook met mekaar (gevoel van vriendelikheid en warmte: die kerkraad kan dit help fasiliteer).

As preek en bid die dominee se eintlike werk is, moet hulle baie meer tyd daaraan spandeer (vgl Handelinge 6).

Die meeste van die beskikbare erediensvoorbereidingstyd in die week word tans aan die preekmaak bestee, terwyl dit maar net ’n kwart van die erediens se tyd in beslag neem. Eintlik behoort die dominee die meeste van sy tyd aan die liturgie-voorbereiding te spandeer wat grootliks die atmosfeer/realiteit van God se teenwoordigheid fasiliteer. Dit is die liturgie wat God en gemeente bymekaar moet uitbring sodat die preek sy doel kan bereik.

’n Erediensbeplanningsgroep wat nie net kan help dat die preek werklik by mense uitkom nie, maar ook met die liturgie kan help, is baie nodig. Die groep sal uit die aard van die saak bemagtig moet word (ingrawe in wat in die erediens moet gebeur en hoe dit gefasiliteer kan word).

Die sang vooraf help ons nie, en ons wil voorstel dat dit gestaak word. (Mens kan bv nie sing én vreemdelinge hartlik verwelkom of laat tuis voel gelyk nie). Lof- en aanbiddingsliedere kan eerder as deel van die erediens gesing word.

Atmosfeer voor die tyd kan op baie maniere gefasiliteer word, deur bv Taizé en ander musiek (speel van CD’s ens).

Ons predikante moet ook help om boodskappe te laat land (kommunikasie van die Woord) deur die lig daarvan op ons eie lewens te laat skyn.

As ons sê dat ons gemeente ’n familie is wat mekaar wil ontmoet, dan kan ons nie aangaan met die gebou soos wat dit tans is nie. Jy kan nie nuwe wyn in ou sakke gooi nie. ’n Maalruimte bly ’n noodsaaklike behoefte. Ons is ’n familie. Hoe tree ’n familie teenoor mekaar op?

Ons sal moet wegbeweeg van die gedagte dat ’n erediens slegs ’n uur mag duur en klaar. As ons moeite met die liturgie doen, gaan die dienste noodwendig langer word.

Visie-gedrewe; Dream Team:

Ons moet ophou om in reaksie te leef, en visie-gedrewe begin lewe. Ons visie vir Toringkerk moet ons vorentoe neem (#instandhouding) en daarom is dit nodig dat ons ’n waarderende ondersoek moet doen (vergelyk Nuwe Drome van Nelis Niemandt). Vir bogenoemde is dit nodig dat ons kernmense in ons gemeente identifiseer met wie ons openhartig kan praat oor ons gemeente, ons visie vir die gemeente en oor die toekoms van die gemeente. ’n "Dream Team" wat visie-gedrewe dink en leef, wat die basis kan vorm van ’n nuwe beweging in ons gemeente en ook die basis van ’n verkleinde kerkraad kan vorm.

Kleingroepe:

Ons glo dat kleingroepe die beste instrument is om lidmate geestelik te versorg en te help om hulle roeping uit te leef. Daarom wil ons graag al die lidmate van ons gemeente opvang in ’n groep van een of ander aard. Ons voel baie sterk hieroor. Die uitgangspunt moet wees dat jy nie ’n lidmaat van Toringkerk kan wees sonder iewers betrokke te wees nie.

Ons fokus vir die nuwe jaar gaan wees dat vanuit ons gemeenskap met mekaar bedien ons die gemeenskap waarin ons woon. Ons is die boodskap! Ons aktiwiteite verklap wat ons prioriteite is. As die erediens of kleingroepe vir ons belangrik is, dan moet ons aktiwiteite dit wys.

Ongelukkig is dit so dat die feit dat ons aan die Here behoort nie regtig ’n verskil aan die wêreld maak nie.

Ons wil dus soveel moontlik van ons lidmate in kleingroepe betrek waar hulle nie net mekaar versorg nie, maar vanwaar uit hulle ook die gemeente rondom hulle gaan bedien en ook gaan uitreik na die wêreld.

Kleingroepleiers moet bemagtig word om hulle groepe effektief te hanteer en te laat groei. Daar moet ’n proses van begeleiding wees.

Ons moet sorg vir die regte materiaal op die regte tyd.

Die volgende sake moet aan die gemeente gekommunikeer word:

Om ’n lidmaat van die gemeente te wees is ’n keuse wat jy maak wat implikasies vir jou lewe het. 2 Sam 24:24: "Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie."

Dat ons tans nie gelukkig is met die manier waarop lidmate hul keuse uitoefen nie. Lidmate moet verstaan: "Jy is nie deel as jy nie betrokke is nie!" Ek kan tog nie ’n Christen wees as ek nie iewers in die koninkryk betrokke is nie?

Elke lidmaat moet hulle daarom verbind om iewers betrokke te wees, hetsy by ’n kleingroep of dan by ’n bepaalde bediening.

Ons roeping na buite (evangelisasie/getuienis/barmhartigheid):

Ons gerigtheid na buite moet aandag kry; ons moet as ’n gestuurde gemeente in ons wêreld begin leef met ’n oog op die geestelike en materiële nood daarvan (evangelisasie en barmhartigheid). Dit beteken:

Evangelisasie: vriendskaps- en behoefte-georiënteerde evangelisasie

Barmhartigheid: hospitaalspan, Badisa en ACVV, projekte, Lingelihle crèche

Evangelisasie en barmhartigheid behoort in gesprek met die Paarlleraarskring en VGK (ook Monte Christo) beplan en aangepak te word, sodat ons op ’n vennootskapsbasis in ons omgewing betrokke raak.

Werksverdeling leraars:

Christo: Jeug, Eredienste, Voorsitter van kerkraad, leierskapsbemagtiging, "Dream Team"

Jaco: Kleingroepe (alles wat dit behels), Kommunikasie, Kantoor & Administrasie

Carel: Barmhartigheid, Ekumene en Evangelisasie.

Algemeen:

Niks nuuts kan begin word sonder die dood van die oue nie

’n Nuwe begin is morsig en moeilik

Ons, kerkraad, se harte moet reg wees.

As ons goed wil laat werk moet ons glo in dit wat ons wil doen.